US-koor wil ‘musiek dien’

Anina Visser

Met hul optrede tydens die Woordfees, getiteld: Prelude tot Pyn: Skaduwees en Vlerke, bewys die Stellenbosch Universiteitskoor weer waarom hul wêreldberoemd is. LIP met die koor se dirigent van die afgelope 13 jaar, André Van der Merwe, gesels.

US koor
FOTO: Edo Photography 2015

Tydens die etensuur sit die Endler-konsertsaal propvol, maar die verhoog is leeg. Die gehoor sit in afwagting. Dan word slegs een suiwer stem gehoor. Voor daardie stem uitgeken kan word, bars die deure van die Endler oop. Die harmoniese klanke van die Universiteitskoor stroom van alle kante af in om die gehoor te omsluit in, wat Van der Merwe beskryf as, ‘n ‘‘kaleidoskopiese klankervaring.

Die Stellenbosch Universiteitskoor, wat vanjaar hul 80ste bestaansjaar vier, spog onder meer met die titel van Wêreldkampioene en vir hulle 2016 Fiësta-toekenning. Erkenning is egter nie wat hierdie koor definieer nie. Van der Merwe sê dat hy persoonlik nooit erkenning najaag nie maar dat hy sy koorlede uitdaag om hul absolute beste te lewer en om eerstens die musiek te dien. “As die musiek met integriteit en vaardigheid gekommunikeer word, dan sal dit die harte van die gehoor bereik.“

Wat egter meer opvallend as al hul toekennings is, is die individue waaruit die koor bestaan. Volgens Van der Merwe is die eenheid wat op die verhoog te sien is, die som van elke koorlid se toewyding, dissipline en passie. “Ons het groot belangstelling op kampus vir die koor,” sê Van der Merwe, “Die lede bring `n aansteeklike entoesiasme en inspirerende dinamika na elke kooroefening.

Deelname aan die Woordfees stel egter ‘n enorme uitdaging aan die koor. “Ons begin elke jaar eers in Februarie repeteer met meer as 40% van die koor wat nuwe lede is. Uiteindelik is ons optredes by die Woordfees vir my sinoniem met ongelooflike spanwerk en deursettingsvermoeë,” sê Van der Merwe. “Feeste gee vir ons almal vlerke,“ sê Van der Merwe oor die rol van die Woordfees as platform vir die kunste.

‘n Hoogtepunt in vanjaar se repertoire is die Requiem Aeternam van Sergey Khvoschinsky.

Die komponis het persoonlik die musiek vir die koor gestuur. Van der Merwe verduidelik dat die werk geskryf is in reaksie tot ‘n terroriste tereuraanval by ‘n treinstasie in Belarus.

Vanjaar se Woordfees vertoning was ook uniek danksy Antoinette Kellermann se “legendariese stem“ wat tussen elke stuk die inhoud en betekenis van die werke vertolk.

Leave a comment