Ingrid Jonker: ’n blik op menswees

Joan van Dyk

Die intrige rondom Ingrid Jonker se boheemse leefstyl en omstrede dood het onlangs weer in die Suid-Afrikaanse verbeelding herleef. Haar kultusstatus sal skynbaar nooit verdwyn nie, miskien te danke aan haar ongeboeide benadering tot die lewe en ’n onstuimige private en publieke lewe. Joan van Dyk het gaan uitvind waar haar spook oral by hierdie jaar se Woordfees rondloop.

ingrid jonker netwerk 24.jpg
Ingrid Jonker was die onderwerp van vyf verskillende produksies by vanjaar se Woordfees. FOTO: Media24-argiewe

Luna Paige se nuutste produksie Korreltjie kantel vertel die Jonker-storie op ’n nuwe manier. Jonker se liefdesgedigte is verwerk met behulp van vyf verskillende musiekgroepe, naamlik Hatchetman, Nick Turner, Medicine Boy en Inge Beckmann. Oomblikke in die Jonker-Brink-korrespondensie word gedramatiseer tussendeur musikale vertolkings.

“Sy is dikwels jong mense se eerste kennismaking met poësie, en niemand vergeet hul eerste digter nie! Haar gedigte is ook maklik om te toonset vanweë die ritmiese kwaliteit daarvan,” sê Paige.

Ingrid Jonker het ook kultusstatus bereik oorsee. Sabine Goethals, ’n Vlaamse aktrise, speel die rol van Ingrid Jonker in Die Hartseerkind, waarin haar lewensverhaal in Nederlands, Vlaams, Afrikaans en Engels deur gedigte en briewe vertel word. Goethals het Jonker se werk leer ken deur haar vriendskap met Herman van Nazereth, ’n kunstenaar wat in die sestigerjare met Jonker in ’n verhouding was. Goethals sê sy voel ’n sterk band met Ingrid.

“Ek sien myself in haar, altwee van ons moes baklei vir wat ons wil hê.”

Petrovna Metelerkamp, Jonker se biograaf, het ook vanjaar se Woordfees bygewoon en het uitgebrei oor moontlike redes vir haar kultusstatus: “Dit móét die eerlikheid en onopgesmuktheid van haar poësie wees. Dit is so innemend, dit gryp jou eenvoudig”.

“Ingrid Jonker is een van die min mense wat die grense tussen Afrikaans en Engels kon oorskry. Sy het onmiddelik bekend geword buite Afrikaanse kringe. Sy het ’n unieke stem en haar poësie het ’n bedrieglike eenvoud wat ’n appèl maak wat min ander digters regkry,” het prof. Louise Viljoen, literêre kritikus en skrywer van Ingrid Jonker: A Jacana Pocket Biography, gesê.

Die twee biograwe stem saam dat Ingrid nie ’n uitdruklik feministiese agenda gehad het nie, maar dat sy beslis nie ’n damsel in distress was nie.

“Sy was geensins ’n slagoffer nie. Sy het stoksielalleen op haar voete gestaan tot sy nie meer kon staan nie. Sy verteenwoordig ’n kleurvolle blik op menswees,” sê Metelerkamp.

“Ingrid het sonder apologie oor vroulike ervaring geskryf sonder om mans te probeer namaak en het die weg gebaan vir digters soos Antjie Krog,” sê Viljoen.

Uit hierdie jaar se Woordfees-aanbod blyk dit dat haar spook nooit ’n ruskans sal kry nie. Haar impak op die kunste kan ’n biblioteek vol maak, maar is meer effektief deur Jack Parow in een sin beskryf:  “Dis Ingrid f*kken Jonker, sy laat die land in die see in stap.”

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s