Houe val by intellektuele boksgeveg

Joan van Dyk

“Jou moedertaal is die taal waarin jy seks het. As jou metgesel klimaks bereik in Engels is sy óf nie regtig Afrikaans nie, óf dis nie regtig die klimaks nie.”

Dié woorde van dr. Dirk Louw, senior lektor in die department filosofie by Stellenbosch Universiteit (SU) was een van die kwinkslae wat die gehoor laat skaterlag het by die immergewilde Filosofiekafee tydens die Woordfees.

Twee spanne van die US se diepste denkers het in kompetisie na die grootste applous gemik deur die verskeie betekenisse van vanjaar se feestema, Bly, op filosofiese wyse klein te kry.

Die dekaan van die fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe, prof. Stan du Plessis, was daar om te keer dat dié intellektuele boksgeveg handuit ruk.

Die hoogtepunte lyk soos volg:

Ronde 1

Prof. Johan Hattingh, dekaan van die fakulteit lettere en wysbegeerte, het sy bydrae, “die donker kant van bly” opgedra aan wyle prof. Johan Degenaar, bekende filosoof, wat vanjaar 90 sou word. Degenaar is in Julie verlede jaar oorlede en was ’n emeritus-professor aan die US. Hy word gesien as een van die mees invloedryke Suid-Afrikaanse filosowe vir sy bydrae tot die eksistensialistiese, estetiese en teologiese filosofie.

Ronde 2

Die teoloog prof. Robert Vosloo is toegejuig vir sy stap vir stap gids oor hoe om bly te bly: “Hoe bly ’n mens bly in nul stappe, met geen geheime, en met die leer van geen nuwe gewoontes – ’n filosofiese analise.”

Ronde 3

Dr. Jaques du Plessis, voorsitter van Romeinse­– en Privaat-reg by die US, het politiese raad gegee en  voorgestel dat die gehoor moet “by bly soos wat Blytenbach van ons verwag”.

Dr. Vasti Roodt het ’n “Bybly-rap” aangebied met apologie aan die Spice Girls.

“Ag skuus, AfriForum, ek bedoel ’n kletsrym met apologie aan die spesery-meisies,” het sy geskerts.

Ronde 4

Dr. Hannes Smit se blydskap het perke.

“Wees bly, maar net as jy bly is.” Hy het gewaarsku teen “die iriterende idee dat almal ’n positiewe uitkyk moet hê”.

Smit sê hierdie soort mense het gewoonlik ’n “vriendelike, semi-aggressiewe glimlag. Iets tussen ’n laerskoolonderwyser en Johan Stemmet”.

Volgens Smit kan hulle uitgeken word aan hul aandrang daarop om ‘probleme’ eerder ‘geleenthede’ of ‘uitdagings’ te noem.

“Dan wemel die land mos van die uitdagings, en daar is elke dag meer en meer geleenthede.”

Die beste aanhalings van die aand

“Negatiwiteit is belangrik, dit kan liedjies veroorsaak soos “Jy met jou mandolientjie, ek met my Britse Paspoort”.

  • Hannes Smit, senior lektor in die departement filosofie.

“Sonder negatiwiteit word ‘die goeie en die bose’ dan ‘die goeie en die geleenthede’. Dit klink te veel soos ’n nagklub.”

  • Hannes Smit, senior lektor in die departement filosofie.

“Ek weet nie wat ek alles met Julius Malema in gemeen het nie, maar ek weet ons het altwee ons dood gesukkel om in standerd 6 houtwerk deur te kom.”

  • ­Prof. Anton van Niekerk, voorsitter van die department filosofie en direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek.

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s