ʽFeite móét in die pad van ’n goeie storie staan’

Denique Smith

Die Khaya – Sosiale media is nie joernalistiek nie. Só het Prof Lizette Rabe, voorsitter van die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, gesê tydens ’n diskoers met die joernalis en politieke kommentator Max du Preez.

“Ek luister na wat mense praat en ek kom agter hulle dink sosiale media is ’n inligtingsbron soos die joernalistiek, terwyl dit glad nie so is nie.” Sy sê die joernalistiek is iets wat onafhanklik en objektief moet wees.

Volgens haar is die mens egter ’n sosiale wese. “Daar was nog altyd sosiale media. Dit is nou net in ’n ander vorm en natuurlik vinniger.”

Rabe het gesê dat dit wat oomblik-vir-oomblik op Facebook en Twitter gebeur, nie aan enige professionele kode voldoen nie. Volgens haar moet joernaliste wat gebruik maak van hierdie platforms dit op ‘n verantwoordelike manier doen en inligting onafhanklik verifieer.

“Check, check, check en nogmaals check. Dit is absoluut belangrik om by die beginsels van die joernalistiek te hou.” In teenstelling met die alombekende frase, glo Rabe ook feite móét in die pad van ’n goeie storie staan.

Du Preez het beklemtoon dat die media die publiek moet dien tydens gebeure soos die #FeesMustFall studentebetogings. As leser wil hy verstaan wat die rede vir die betoging is. “Wie is hulle, wat dink hulle en wie sit agter die beweging?” het hy gevra. Volgens hom het hy nie werklik sulke ontledings in die media gesien nie.

Tim Du Plessis, voormalige redakteur van Rapport wat die diskoers bygewoon het, het gesê die gesprek toon ’n pessimistiese gevoel teenoor die media. “Sosiale media speel ‘n belangrike rol ondanks al die negatiwiteit rondom dit,” het Du Plessis gesê.

Rabe het egter geantwoord dat haar gesprek met Du Preez juis uitgewys het hoe belangrik mediavryheid is. “Tussen ‘n demokrasie en ʼn ramp staan die vrye media.”

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s